MAATSKAPPYPROFIEL

In die vroeë 1980s het Leserskring, saam met die susterhandelsmerk Leisure Books, die manier waarop Suid-Afrikaners boeke gekoop het, verander en só ’n revolusionêre rol in die uitgewersbedryf gespeel. En terwyl die profiel van boekverkope die afgelope dertig jaar beduidend verander het, stuur hierdie unieke Boekklub vandag nog steeds elke drie maande ’n katalogus aan Lede – propvol van die beste leesstof op die mark.

Media24, toe nog die beheermaatskappy, het in 2016 aangekondig dat dié ikoniese Suid-Afrikaanse boekklub gesluit gaan word. As ’n erfenismaatskappy het Leserskring oor die jare ’n groot onderneming geword. Vasgevang in die lomp prosedures van die wêreld van groot sake en gekniehalter deur ’n gebrek aan ratsheid in ’n veranderende mark, het dit die gevaar geloop om irrelevant te word in die mark waar dit eens ’n vernuwende rol gespeel het.

Nou, met IMD Logistics se verkryging van sowel Leserskring as Leisure Books – kort ná Media24 se skok-aankondiging – is daar nuwe lewe geblaas in hierdie geliefde maatskappy. En met die verandering in eienaarskap het die geleentheid gekom om weer jonk en rats te wees – om hierdie erfenismaatskappy ná 36 jaar in ’n “start-up”-gedaante te laat pronk.

Weer eens bied Leserskring ’n keur van die beste plaaslike en internasionale boeke, rolprente, musiek – en veel meer – aan sowel Klublede en ander boekliefhebbers.

Kyk net na sommige van die interessante feite oor dié Boekklubs, wat die afgelope 36 jaar ’n deurslaggewende rol in die Suid-Afrikaanse boekhandel gespeel het:

  • Meer as 20 000 Lede behoort al oor die 20 jaar aan die Boekklubs
  • 10 000 is al meer as 30 jaar lank Klublede
  • 300 van hulle se Lidmaatskap dateer van die aanvangsdatum in 1980
  • Binne drie weke van die oorspronklike ontstaan in 1980, het 3 000 Lede aangesluit
  • Oor die 36 jaar sedert die begin, het die Klubs meer as 40 miljoen boeke verkoop