Bill Clinton is nou die eerste oud-president van Amerika wat ook die Skrywer van ’n riller is.

Hy het The President is Missing saam met die topverkoperskrywer James Patterson geskryf.

Clinton se twee termyne in die Withuis het uiteraard goed te pas gekom en hy sê dat hy nog altyd ’n riller wou skryf.

Hy is ’n groot aanhanger van Patterson, skepper van die karakter Alex Cross, ’n voormalige speurder wat ’n sielkundige geword het.

“Ek is versot op rillers en lees baie. Ek het pas die derde boek van die Sparrow-trilogie (deur Jason Matthews, wat met Red Sparrow begin) klaar gelees.”

The President is Missing bied ’n blik op hoe dit sal wees om ’n president onder uiterste omstandighede te wees.

“Dit ís ’n roman, maar dit gaan oor dinge wat wel kán gebeur.”

Die storie gaan in breë trekke oor ’n verpletterende kuberaanval op Amerika wat dreig om die wêreld te verwoes. En mettertyd verdwyn die president.

Clinton was mal daaroor om president te wees, maar hy erken dit kan ook die “moeilikste werk ter wêreld” wees. “Ek wil hê mense moet sien dit is regte mense wat ’n regte werk doen. Hulle neem besluite wat saak maak. Hulle beïnvloed ons lewens.”

Clinton het al politieke drama-reekse soos House of Cards en Scandal gekyk. Hy het die eerste paar seisoene van House of Cards gevolg en beskou die eerste seisoen as werklik goed.

“Terwyl ek die reeks gekyk het, het ek egter gedink menses sal glo dit is normal dat mense in die Withuis ander doodmaak. Hulle dink dan uiteindelik nie aan die feit dat mense elke dag opstaan en doen wat hulle dink is reg nie.”

Kliek hier vir meer oor The President is Missing of om dit te bestel.

From: Die Burger, Junie 5, 2018
Publisher: Penguin Random House
Selling Price: R290
Price for Leisure Books Club Members: R290