“In baie gevalle kan jy amper nie glo wat jy lees nie.” – Theunis Engelbrecht

 

In die gesoute joernalis Mandy Wiener se nuutste boek, Ministry of Crime, verken sy die onderwêreld van georganiseerde misdaad en hoe wetstoepassers en -agentskappe in Suid-Afrika gekaap is. Nog ’n joernalis en skrywer Theunis Engelbrecht resenseer in die Rapport Weekliks van 20 Mei 2018 hierdie boek en noem die name van dié wie se stories hier vertel word – onder meer Radovan Krejcir, Lolly Jackson, Riah Phiyega. Hy vertel ook van die bydraers met wie die skrywer belangrike onderhoude gevoer het.

Radovan Krejcir – net een van vele stories
Een misdadiger se verhaal wat hier vertel word is die van die Tsjeggiese bobaas-booswig Radovan Krejcir. Toe hy in 2007 na sy Afrika gekom het was dit reeds bekend dat hy “’n veroordeelde misdadiger in Tsjeggië [was], waar hy 15 jaar tronkstraf opgelê is”. Hy is op O.R. Tambo-lughawe in hegtenis geneem, maar sy straf was van korte duur. “…’n paar weke later bevind ’n landdross van Kempton Park hy is geregtig op borgtog en mag nie aan Tsjeggië uitgelewer word nie. Later is beweer Krejcir het die landdros met miljoene rande omgekoop,” skryf Engelbrecht.

’n Lang lys van name
Die resensent noem dat daar hopeloos te veel rolspelers is om op te noem, maar hy verklap tog die name van ’n paar. Soos die van “… Lolly Jackson, eienaar van die Teazers-ontkleeklubs, en die vermeende kaapse bendeleier Cyril Beeka, twee van die sluipmoordslagoffers in Ministry of Crime.”

Lof vir Ministry of Crime
“In baie gevalle kan jy amper nie glo wat jy lees nie,” skryf Engelbrecht.

Hy komplimenteer die skrywer se vernuf om al die inligting duidelik en logies vir die leser uiteen te sit en sê, “Met so baie materiaal en rolspelers sal enige skrywer oorweldig voel, daarom is dit des te meer bewonderenswaardig hoe Wiener die hele sage uiteensit en dit tot die enigste logiese eindpunt deurvoer: Suid-Afrika is ’n geil teelaarde vir georganiseerde misdaad omdat korrupte polisielede (tot in die hoogste geledere) en magtige politici darby betrokke is, en wetstoepassing ter wille van politieke mag gemanipuleer word.”

Engelbrecht sê wat in hierdie boek tot groot voordeel is, is dat die skrywer “… moeite gedoen het om onderhoude te voer met belangrike rolspelers.” Joey Mabasa, Riah Phiyega en Demi (Jackson se weduwee) is net ’n paar van die name wat hy hier opnoem. “Een van die insiggewendste onderhoude is die met genl.maj. Jeremy Vearey.” Veary se eie boek, Jeremy vannie Elsies, het ook onlangs verskyn. Lees meer hier. <link to Jeremy vannie Elsies blog post>

Die feit dat daar soveel uiteenlopende perspektiewe en invalshoeke is, is vir Engelbrecht nog ’n pluspunt van Ministry of Crime.

Ook op die boekrak
Die boek word as een van die belangrike móét-lees boeke geken en in dieselfde asem as Jacques Pauw se The President’s Keepers en Adriaan Basson en Pieter du Toit se Enemy of the People genoem. “… maar hier boor Wiener nóg dieper en onthul nóg meer.”

Ten slotte
“Ministry of Crime is ’n roller-coaster-leeservaring (nie ’n wipwarit nie, want dit klink nie naastenby so intens nie)” en word aanbeveel vir enigeen wat regtig wil weet wat in Suid-Afrika aan die gang is. “Dis eintlik nie meer ’n kwessie van wil nie, maar van móét,” meen Engelbrecht.

Wil jy hierdie boek self lees? Kliek hier om Ministry of Crime te bestel.

Uit: Rapport Weekliks 20 Mei 2018
Uitgewer: Pan Macmillan
Resensent: Theunis Engelbrecht
Verkoopsprys: R295
Prys vir Leserskring se Klublede: R240